Die droomwêreld
is vir sommige ’n uitkoms, ’n ruskans van die alledaagse bestaan. Vir ander ’n letterlike nagmerrie. Die mens is tog ’n intellektuele wese wat op
die hoogste vlakke van bewussyn kan funksioneer, waarom dan die belangstelling in
drome – die wroegings van die onderbewuste – en die subjektiewe uitleg daarvan?
Onlangse studies het
bewys dat ’n groot menigte oortuig is daarvan dat drome die draers van “verskuilde
waarhede” is. En as jy al kennis met
Carl Jung gemaak het, sal jy weet dat hy ook ’n aanhanger van droomboodskappe was,
en geglo het dat dromers toegewyde aandag aan hul drome moet skenk aangesien
openbarings daarin kan help om emosionele vrese op te los. Herhalende drome vereis juis dringende aandag
volgens Jung, aangesien dit ’n kwessie aanspreek wat vroeër onafgehandeld
gelaat is en nou smeek om aangespreek te word.
’n Ander teorie
is dat drome die emosionele voorbereiding vir konflikoplossing is, en dat ons
drome ’n oefenlopie is vir ’n verskeidenheid fisieke, intellektuele en sosiale
hekkies. Dit is ’n feit dat drome ons
buie reguleer: droom heerlik en jou dag begin goed, maar rol die hele nag rond
weens ’n nagmerrie en jy voel en lyk soos ’n donderstorm wanneer jy
jouself moeg-moeg uit die bed uit sleep.
Drome is meer algemeen tydens slaapfases waar breinaktiwiteit hoog is. Maar het jy geweet dat die vrystelling van
die normale neuro-oordragstowwe soos serotonien en histamien totaal onderdruk
word tydens hierdie slaapfases? Die rede
daarvoor is relatief eenvoudig: hoe
minder beweeglik die liggaamspiere, hoe kleiner die kans dat jy jouself kan
beseer gedurende ’n bedrywige droom!
En watter dier
droom die meeste? Nee, nie jou hond nie,
al sien jy hom gereeld kamma-draf en blaf tydens sy drome! Raai, die ietermagog het
van die kleurrykste drome, selfs meer as die mens. Maar geweet dat ook voëls en reptiele
kan droom?
Soveel meer kan
oor die fantastiese wêreld van drome gesê word, maar die les vir vandag is
kortliks: oorweeg jou drome, dalk is jou
onderbewuste besig om jou iets te vertel, en gratis berading en skoling is
nie te versmaai nie, veral nie van 'n terapeut met sulke intieme kennis van jou gemoed nie! Have a dreamscape and heal yourself. Soete drome!