2012-05-22

Kaneel vs Cassia - Ken jy die verskil?


Die volgende artikel word nie deur ’n mediese praktisyn onderskryf nie.  Dit dien nie as mediese advies om gesondheidsprobleme te diagnoseer of behandel nie.  Kontak ’n geregistreerde voedingkundige of mediese praktisyn vir gedetailleerde inligting oor die onderstaande tema.


Cinnamon bites and kisses simultaneously. ~ Vanna Bonta



Kaneel is ’n alombekende spesery van gedroogde boombas en word daagliks nie net in pannekoek en melktert gebruik nie, maar het ook velerlei medisinale gebruike.  Mondeliks geneem word dit algemeen gebruik as bloedverdunner, ’n stabiliseerder van bloedglukose, immuniteitbouer, gastro-intestinale en antiseptiese middel. 

Wat Jan Alleman egter nie weet nie, is dat die meerderheid botteltjies “kaneel” wat ons op die winkelrakke aantref nie suiwer kaneel bevat nie.  ’n Plantaardige middel met die naam Cassia (Cinnamomum aromaticum of C. cassia) van dieselfde genus Cinnamomum word onder die naam “kaneel” bemark, alhoewel dit nie vergelykbaar is met suiwer Ceylon-kaneel, oftewel Cinnamomum verum (C. zeylanicum) nie.  Suiwer kaneel is skaars en dit word gereflekteer in die hoë prys daarvan.  Beide kaneel en Cassia kan vir die regulering van bloedsuikervlakke ingespan word, maar Cassia hou groter gesondheidsrisiko’s in weens die hoër vlakke van Kumarien daarin.  Kumarien is ’n natuurlike plantaardige komponent met sterk bloedverdunningseienskappe wat uiters gevaarlik kan wees in pasiënte wat reeds ’n ander bloedverdunner soos Warfarin of selfs aspirien gebruik.  In sensitiewe persone kan dit ook velirritasies, gastro-intestinale ongerief en selfs lewerskade veroorsaak.  Suiwer kaneel besit laer vlakke daarvan en word dus verkies bo Cassia, alhoewel bloedstolling deur beide beïnvloed sal word.  2,5 tot 5ml verpoeierde kaneel of Cassia per dag is ’n aanvaarbare dosis vir verbetering van die immuniteit en stabilisering van bloedglukosevlakke, maar meer as dit kan reeds ernstige wanbalans in bloedstollingsvlakke meebring.

Normale gebruik van Cassia as geurmiddel (soos in pannekoek) behoort nie ’n noemenswaardige effek op die gesondheid te toon nie.  Waar dit egter as medisinale middel aangewend word, moet dus seker gemaak word dat eerder Cinnamomum verum (C. zeylanicum) gebruik word as die goedkoper Cassia.

Hoe maak ’n verbruiker dan seker dat hy die korrekte vorm daarvan koop?  Verpoeierde kaneel of Cassia lyk byna identies, alhoewel suiwer kaneel wel ’n ligter bruin en fyner tekstuur sal toon by nadere ondersoek.  Wanneer Cassia- en kaneelstokkies vergelyk word, is dit makliker om die ware Jakob te eien – kaneel het meervoudige dun lagies bas wat maklik verbrokkel, ligbruin van kleur is en byna soos ’n Flake-sjokolade lyk.  Cassia is harder, meer solied en donkerbruin tot rooibruin.  Suiwer kaneel lyk soos ’n sigaar wanneer dit van die entkant waargeneem word, terwyl Cassia ’n hol pypie vorm waar die bas omkrul.  ’n Toets vir die verskil word op Wapedia voorgestel: “When powdered bark is treated with tincture of iodine (a test for starch), little effect is visible in the case of pure cinnamon of good quality, but when cassia is present, a deep-blue tint is produced, the intensity of the coloration depending on the proportion of cassia.”

Kaneel - die ware Jakob


Cassia - die goedkoper maar gevaarliker opsie