Die volgende artikel word nie deur ’n mediese
praktisyn onderskryf nie. Dit dien nie
as mediese advies om gesondheidsprobleme te diagnoseer of behandel nie. Kontak ’n geregistreerde voedingkundige of
mediese praktisyn vir gedetailleerde inligting oor die onderstaande tema.
Cinnamon bites and kisses simultaneously. ~ Vanna Bonta
Kaneel is ’n alombekende spesery van gedroogde
boombas en word daagliks nie net in pannekoek en melktert gebruik nie, maar het ook velerlei medisinale gebruike. Mondeliks
geneem word dit algemeen gebruik as bloedverdunner, ’n stabiliseerder van bloedglukose,
immuniteitbouer, gastro-intestinale en antiseptiese middel.
Wat Jan Alleman egter nie weet nie, is
dat die meerderheid botteltjies “kaneel” wat ons op die winkelrakke aantref nie
suiwer kaneel bevat nie. ’n Plantaardige
middel met die naam Cassia (Cinnamomum
aromaticum of C. cassia) van
dieselfde genus Cinnamomum word onder
die naam “kaneel” bemark, alhoewel dit nie vergelykbaar is met suiwer Ceylon-kaneel,
oftewel Cinnamomum verum (C. zeylanicum)
nie. Suiwer kaneel is skaars en dit word
gereflekteer in die hoë prys daarvan. Beide
kaneel en Cassia kan vir die regulering van bloedsuikervlakke ingespan word, maar
Cassia hou groter gesondheidsrisiko’s in weens die hoër vlakke van Kumarien
daarin. Kumarien is ’n natuurlike
plantaardige komponent met sterk bloedverdunningseienskappe wat uiters
gevaarlik kan wees in pasiënte wat reeds ’n ander bloedverdunner soos Warfarin
of selfs aspirien gebruik. In sensitiewe
persone kan dit ook velirritasies, gastro-intestinale ongerief en selfs
lewerskade veroorsaak. Suiwer kaneel besit
laer vlakke daarvan en word dus verkies bo Cassia, alhoewel bloedstolling deur
beide beïnvloed sal word. 2,5 tot 5ml
verpoeierde kaneel of Cassia per dag is ’n aanvaarbare dosis vir verbetering
van die immuniteit en stabilisering van bloedglukosevlakke, maar meer as dit
kan reeds ernstige wanbalans in bloedstollingsvlakke meebring.
Normale gebruik van Cassia as geurmiddel (soos
in pannekoek) behoort nie ’n noemenswaardige effek op die gesondheid te toon
nie. Waar dit egter as medisinale middel aangewend word, moet dus seker gemaak word dat eerder Cinnamomum verum (C. zeylanicum) gebruik word as die goedkoper
Cassia.
Hoe maak ’n verbruiker dan seker dat hy die
korrekte vorm daarvan koop? Verpoeierde
kaneel of Cassia lyk byna identies, alhoewel suiwer kaneel wel ’n ligter bruin
en fyner tekstuur sal toon by nadere ondersoek.
Wanneer Cassia- en kaneelstokkies vergelyk word, is dit makliker
om die ware Jakob te eien – kaneel het meervoudige dun lagies bas wat maklik
verbrokkel, ligbruin van kleur is en byna soos ’n Flake-sjokolade lyk. Cassia is harder, meer solied en donkerbruin
tot rooibruin. Suiwer kaneel lyk soos ’n
sigaar wanneer dit van die entkant waargeneem word, terwyl Cassia ’n hol pypie
vorm waar die bas omkrul. ’n Toets vir
die verskil word op Wapedia voorgestel:
“When powdered bark is treated with tincture of iodine (a
test for starch), little
effect is visible in the case of pure cinnamon of good quality, but when cassia is present, a deep-blue tint is
produced, the intensity of the coloration depending on the proportion of
cassia.”
![]() | |
| Kaneel - die ware Jakob |
![]() | |
| Cassia - die goedkoper maar gevaarliker opsie |
Erkenning van foto's: http://stephanie-jolly.suite101.com/difference-between-cassia-and-cinnamon-a89695.


No comments:
Post a Comment