Met watter mate van bewussyn kies ons ’n lewensmaat om aan ons behoeftes te voldoen? Anders gestel: kies ons iemand op grond van ’n gerasionaliseerde gesprek met onsself wat so verloop: “ja, ek is regtig lief vir daardie persoon en wil my lewe met hom/haar spandeer, maak nie saak wat gebeur nie” of is die waarheid eerder nader aan “ek het daardie persoon nodig om aan my ego-behoeftes te voldoen en ek is bereid om my hele lewe lank teen sy lelike bakkies vas te kyk omdat my ego-behoeftes hoër rangeer as liefde”.
Is arme Jan Alleman onder ’n selfgemaakte liefdeswaan of erken hy soms ruiterlik “ek het San Alleman nodig om my goed te laat lyk en voel, sy sal altyd na my opsien, omsien en my die nodige heldeverering gee wat ek geniet, en daarom is bereid om my lewe met iemand van ’n mindere intellek te deel al weet ek nou al dat dit my soms nog grensloos gaan irriteer”. Hou ons eerder die keurig -opgedisde kant voor en probeer hard om dit self vir soetkoek op te eet omdat die alternatief (en dus die waarheid oor onsself) net te kru is om te koester, of weet elkeen van ons tog diep binne-in wanneer ons eerder met ego-kwessies doenig is as met ware hartsake?
No comments:
Post a Comment