2012-05-22

Kaneel vs Cassia - Ken jy die verskil?


Die volgende artikel word nie deur ’n mediese praktisyn onderskryf nie.  Dit dien nie as mediese advies om gesondheidsprobleme te diagnoseer of behandel nie.  Kontak ’n geregistreerde voedingkundige of mediese praktisyn vir gedetailleerde inligting oor die onderstaande tema.


Cinnamon bites and kisses simultaneously. ~ Vanna Bonta



Kaneel is ’n alombekende spesery van gedroogde boombas en word daagliks nie net in pannekoek en melktert gebruik nie, maar het ook velerlei medisinale gebruike.  Mondeliks geneem word dit algemeen gebruik as bloedverdunner, ’n stabiliseerder van bloedglukose, immuniteitbouer, gastro-intestinale en antiseptiese middel. 

Wat Jan Alleman egter nie weet nie, is dat die meerderheid botteltjies “kaneel” wat ons op die winkelrakke aantref nie suiwer kaneel bevat nie.  ’n Plantaardige middel met die naam Cassia (Cinnamomum aromaticum of C. cassia) van dieselfde genus Cinnamomum word onder die naam “kaneel” bemark, alhoewel dit nie vergelykbaar is met suiwer Ceylon-kaneel, oftewel Cinnamomum verum (C. zeylanicum) nie.  Suiwer kaneel is skaars en dit word gereflekteer in die hoë prys daarvan.  Beide kaneel en Cassia kan vir die regulering van bloedsuikervlakke ingespan word, maar Cassia hou groter gesondheidsrisiko’s in weens die hoër vlakke van Kumarien daarin.  Kumarien is ’n natuurlike plantaardige komponent met sterk bloedverdunningseienskappe wat uiters gevaarlik kan wees in pasiënte wat reeds ’n ander bloedverdunner soos Warfarin of selfs aspirien gebruik.  In sensitiewe persone kan dit ook velirritasies, gastro-intestinale ongerief en selfs lewerskade veroorsaak.  Suiwer kaneel besit laer vlakke daarvan en word dus verkies bo Cassia, alhoewel bloedstolling deur beide beïnvloed sal word.  2,5 tot 5ml verpoeierde kaneel of Cassia per dag is ’n aanvaarbare dosis vir verbetering van die immuniteit en stabilisering van bloedglukosevlakke, maar meer as dit kan reeds ernstige wanbalans in bloedstollingsvlakke meebring.

Normale gebruik van Cassia as geurmiddel (soos in pannekoek) behoort nie ’n noemenswaardige effek op die gesondheid te toon nie.  Waar dit egter as medisinale middel aangewend word, moet dus seker gemaak word dat eerder Cinnamomum verum (C. zeylanicum) gebruik word as die goedkoper Cassia.

Hoe maak ’n verbruiker dan seker dat hy die korrekte vorm daarvan koop?  Verpoeierde kaneel of Cassia lyk byna identies, alhoewel suiwer kaneel wel ’n ligter bruin en fyner tekstuur sal toon by nadere ondersoek.  Wanneer Cassia- en kaneelstokkies vergelyk word, is dit makliker om die ware Jakob te eien – kaneel het meervoudige dun lagies bas wat maklik verbrokkel, ligbruin van kleur is en byna soos ’n Flake-sjokolade lyk.  Cassia is harder, meer solied en donkerbruin tot rooibruin.  Suiwer kaneel lyk soos ’n sigaar wanneer dit van die entkant waargeneem word, terwyl Cassia ’n hol pypie vorm waar die bas omkrul.  ’n Toets vir die verskil word op Wapedia voorgestel: “When powdered bark is treated with tincture of iodine (a test for starch), little effect is visible in the case of pure cinnamon of good quality, but when cassia is present, a deep-blue tint is produced, the intensity of the coloration depending on the proportion of cassia.”

Kaneel - die ware Jakob


Cassia - die goedkoper maar gevaarliker opsie















2012-02-14

Om te droom of nie te droom nie...


Die droomwêreld is vir sommige ’n uitkoms, ’n ruskans van die alledaagse bestaan.  Vir ander ’n letterlike nagmerrie.  Die mens is tog ’n intellektuele wese wat op die hoogste vlakke van bewussyn kan funksioneer, waarom dan die belangstelling in drome – die wroegings van die onderbewuste – en die subjektiewe uitleg daarvan? 

Onlangse studies het bewys dat ’n groot menigte oortuig is daarvan dat drome die draers van “verskuilde waarhede” is.  En as jy al kennis met Carl Jung gemaak het, sal jy weet dat hy ook ’n aanhanger van droomboodskappe was, en geglo het dat dromers toegewyde aandag aan hul drome moet skenk aangesien openbarings daarin kan help om emosionele vrese op te los.  Herhalende drome vereis juis dringende aandag volgens Jung, aangesien dit ’n kwessie aanspreek wat vroeër onafgehandeld gelaat is en nou smeek om aangespreek te word.

’n Ander teorie is dat drome die emosionele voorbereiding vir konflikoplossing is, en dat ons drome ’n oefenlopie is vir ’n verskeidenheid fisieke, intellektuele en sosiale hekkies.  Dit is ’n feit dat drome ons buie reguleer: droom heerlik en jou dag begin goed, maar rol die hele nag rond weens ’n nagmerrie en jy voel en lyk soos ’n donderstorm wanneer jy jouself moeg-moeg uit die bed uit sleep.

Drome is meer algemeen tydens slaapfases waar breinaktiwiteit hoog is.  Maar het jy geweet dat die vrystelling van die normale neuro-oordragstowwe soos serotonien en histamien totaal onderdruk word tydens hierdie slaapfases?  Die rede daarvoor is relatief eenvoudig:  hoe minder beweeglik die liggaamspiere, hoe kleiner die kans dat jy jouself kan beseer gedurende ’n bedrywige droom!

En watter dier droom die meeste?  Nee, nie jou hond nie, al sien jy hom gereeld kamma-draf en blaf tydens sy drome! Raai, die ietermagog het van die kleurrykste drome, selfs meer as die mens.  Maar geweet dat ook voëls en reptiele kan droom?

Soveel meer kan oor die fantastiese wêreld van drome gesê word, maar die les vir vandag is kortliks:  oorweeg jou drome, dalk is jou onderbewuste besig om jou iets te vertel, en gratis berading en skoling is nie te versmaai nie, veral nie van 'n terapeut met sulke intieme kennis van jou gemoed nie!  Have a dreamscape and heal yourself.  Soete drome!

2012-02-13

Ouer, wyser en bietjie snaakser...

Buddy Hackett het gesê: As a child my family's menu consisted of two choices: Take It or Leave It. Dit is hoe die lewe is - vat dit, gebruik dit, maak dit jou eie. Of los dit, gooi dit ver weg en moenie jou tyd verder daarmee mors nie! En so dan ook met hierdie Blog - neem daaruit wat jy kan, kou die vleis en spoeg uit die bene. Ons praat weer binnekort!