2014-10-20

Goeie raad vir... Gordelroos / Herpes Zoster

Gordelroos word veroorsaak deur dieselfde virus wat waterpokkies veroorsaak.  Die virus maak homself in jou senuweebane tuis en kan in tye van spanning - of bloot wanneer die liggaam se immuniteit swak is - sy teenwoordigheid verklap deur waterblasies op en naby 'n spesifieke senuweebaan te vorm.  Die uitslag, wat gewoonlik aan een kant van die liggaam voorkom, word gewoonlik voorafgegaan deur pyn in die betrokke area.  Die blasies wat effens later hul verskyning maak, brand en/of jeuk erg en die lyer voel sommer in die algemeen siekerig.  Die virus kan oorgedra word aan iemand wat nog nie waterpokkies gehad het nie.

Die beste medisyne vir 'n gordelroosaanval is:

  • 1,000 mg Lysine 2x per dag (op 'n leë maag)
  • 1,000 mg vitamine C 3x per dag
  • goeie dosisse vitamine A, B, D, sink en knoffel om die algehele immuniteit te verbeter
  • Calamine help om die blasies uit te droog, en waterstofperioksied hou dit skoon en ontsmet
  • MOENIE DIE BLASIES STUKKEND KRAP NIE!  Alhoewel mediese dokters nie altyd hiermee sal saamstem nie, is dit al talle kere bewys dat jy in sommige gevalle die gesonde kant van jou liggaam kan aansteek indien die vloeistof van die blasies daarmee in kontak kom.  Moet glad ook nie aan jou gesig (veral neus en oë) raak indien jy aan die blasies geraak het nie, blasies rondom die neus en oë kan regtig baie gevaarlik wees.  En ongelukkig is daar ook medici wat glo dat jy gordelroos hoogstens een of twee keer in jou lewe kan kry - jammer om teleur te stel, maar baie pasiënte kry herhaalde aanvalle deur hul lewens!
  • Sterkte!  'n Gordelroosaanval kan vir 2-3 weke aanhou voor al die blasies opklaar en die senuweepyn verdwyn.

2014-10-11

Gesonde raad vir... SONBRAND

Geweet dat die volgende sonbrand kan help verlig?

  • Mengsel van appelasyn en suurlemoensap aangespons trek die rooi uit
  • Koue swart tee, veral groentee of rooibostee aangespons bring verligting
  • Sakkies vol ys op die warm sensitiewe dele trek ook die rooi uit

2013-02-22

Kruidjie-roer-my-nie...



Hier volg 'n paar interessante feite oor die gesondheidswaarde van kruie en speserye.  Hierdie inligting is hoofsaaklik vir vars kruie;  die gedroogde weergawe in winkels word gemeng met "vullerplante" en het nie dieselfde uitwerking as die vars produk of tinktuur (baie gekonsentreerde ekstrak) nie.  Tinkture is by gesondheidswinkels te kry.

Borrie
  • beskerm lewer teen gifstowwe
  • bloedsirkulasie
  • rumatiek
  • inhibeer HIV-verspreiding in laboratorium
  • OPPAS! Borrie vermeerder galafskeiding en mense met galprobleme moet dit nie gebruik nie.  Kan maagwande irriteer

Origanum
  • antibakteries, antiviraal en antifungaal
  • bou immuniteit
  • supermarkproduk bevat gemengde variteite en is dus nie so helend nie

Tiemie
  • winderigheid
  • koors
  • antisepties
  • beveg candida
  • respiratories

Roosmaryn
  • antibakteries en antifungaal
  • help met probleemvel en uitslag
  • spysvertering
  • beskerm lewer
  • stywe spiere

Pietersielie
  • inhibeer vermeerdering van kankerselle
  • beveg parasiete, wurms
  • winderigheid
  • skildklier
  • spoel niere
  • meer vit C as lemoene per gewig

Gemmer
  • inflammasie
  • kolonreiniger
  • maagkrampe
  • spierkrampe en rumatiek
  • antimikrobies
  • verlig naarheid
  • OPPAS! Kan maagwande irriteer

Knoffel
  • is bloedverdunnend;  moet nie saam met antikoagulante gebruik nie
  • antisepties, antiviraal, antibakteries, antifungaal
  • die beste verkoue- en griepmedisyne op die mark!

Vinkel
  • beskerm lewer, milt, niere
  • winderigheid

Naeltjies
  • antisepties
  • antiparasities
  • pynverligting
  • OPPAS! Kan maagwande irriteer

Kaneel
  • teen diarree
  • naarheid
  • sinuskongestie
  • antifungaal

Seldery
  • verlaag bloeddruk
  • teen spierkrampe
  • rumatiek
  • diureties

Anys
  • teen mukusvorming
  • help verteringsprosesse

Basilie
  • naarheid
  • teen mukusvorming

2012-05-22

Kaneel vs Cassia - Ken jy die verskil?


Die volgende artikel word nie deur ’n mediese praktisyn onderskryf nie.  Dit dien nie as mediese advies om gesondheidsprobleme te diagnoseer of behandel nie.  Kontak ’n geregistreerde voedingkundige of mediese praktisyn vir gedetailleerde inligting oor die onderstaande tema.


Cinnamon bites and kisses simultaneously. ~ Vanna Bonta



Kaneel is ’n alombekende spesery van gedroogde boombas en word daagliks nie net in pannekoek en melktert gebruik nie, maar het ook velerlei medisinale gebruike.  Mondeliks geneem word dit algemeen gebruik as bloedverdunner, ’n stabiliseerder van bloedglukose, immuniteitbouer, gastro-intestinale en antiseptiese middel. 

Wat Jan Alleman egter nie weet nie, is dat die meerderheid botteltjies “kaneel” wat ons op die winkelrakke aantref nie suiwer kaneel bevat nie.  ’n Plantaardige middel met die naam Cassia (Cinnamomum aromaticum of C. cassia) van dieselfde genus Cinnamomum word onder die naam “kaneel” bemark, alhoewel dit nie vergelykbaar is met suiwer Ceylon-kaneel, oftewel Cinnamomum verum (C. zeylanicum) nie.  Suiwer kaneel is skaars en dit word gereflekteer in die hoë prys daarvan.  Beide kaneel en Cassia kan vir die regulering van bloedsuikervlakke ingespan word, maar Cassia hou groter gesondheidsrisiko’s in weens die hoër vlakke van Kumarien daarin.  Kumarien is ’n natuurlike plantaardige komponent met sterk bloedverdunningseienskappe wat uiters gevaarlik kan wees in pasiënte wat reeds ’n ander bloedverdunner soos Warfarin of selfs aspirien gebruik.  In sensitiewe persone kan dit ook velirritasies, gastro-intestinale ongerief en selfs lewerskade veroorsaak.  Suiwer kaneel besit laer vlakke daarvan en word dus verkies bo Cassia, alhoewel bloedstolling deur beide beïnvloed sal word.  2,5 tot 5ml verpoeierde kaneel of Cassia per dag is ’n aanvaarbare dosis vir verbetering van die immuniteit en stabilisering van bloedglukosevlakke, maar meer as dit kan reeds ernstige wanbalans in bloedstollingsvlakke meebring.

Normale gebruik van Cassia as geurmiddel (soos in pannekoek) behoort nie ’n noemenswaardige effek op die gesondheid te toon nie.  Waar dit egter as medisinale middel aangewend word, moet dus seker gemaak word dat eerder Cinnamomum verum (C. zeylanicum) gebruik word as die goedkoper Cassia.

Hoe maak ’n verbruiker dan seker dat hy die korrekte vorm daarvan koop?  Verpoeierde kaneel of Cassia lyk byna identies, alhoewel suiwer kaneel wel ’n ligter bruin en fyner tekstuur sal toon by nadere ondersoek.  Wanneer Cassia- en kaneelstokkies vergelyk word, is dit makliker om die ware Jakob te eien – kaneel het meervoudige dun lagies bas wat maklik verbrokkel, ligbruin van kleur is en byna soos ’n Flake-sjokolade lyk.  Cassia is harder, meer solied en donkerbruin tot rooibruin.  Suiwer kaneel lyk soos ’n sigaar wanneer dit van die entkant waargeneem word, terwyl Cassia ’n hol pypie vorm waar die bas omkrul.  ’n Toets vir die verskil word op Wapedia voorgestel: “When powdered bark is treated with tincture of iodine (a test for starch), little effect is visible in the case of pure cinnamon of good quality, but when cassia is present, a deep-blue tint is produced, the intensity of the coloration depending on the proportion of cassia.”

Kaneel - die ware Jakob


Cassia - die goedkoper maar gevaarliker opsie















2012-02-14

Om te droom of nie te droom nie...


Die droomwêreld is vir sommige ’n uitkoms, ’n ruskans van die alledaagse bestaan.  Vir ander ’n letterlike nagmerrie.  Die mens is tog ’n intellektuele wese wat op die hoogste vlakke van bewussyn kan funksioneer, waarom dan die belangstelling in drome – die wroegings van die onderbewuste – en die subjektiewe uitleg daarvan? 

Onlangse studies het bewys dat ’n groot menigte oortuig is daarvan dat drome die draers van “verskuilde waarhede” is.  En as jy al kennis met Carl Jung gemaak het, sal jy weet dat hy ook ’n aanhanger van droomboodskappe was, en geglo het dat dromers toegewyde aandag aan hul drome moet skenk aangesien openbarings daarin kan help om emosionele vrese op te los.  Herhalende drome vereis juis dringende aandag volgens Jung, aangesien dit ’n kwessie aanspreek wat vroeër onafgehandeld gelaat is en nou smeek om aangespreek te word.

’n Ander teorie is dat drome die emosionele voorbereiding vir konflikoplossing is, en dat ons drome ’n oefenlopie is vir ’n verskeidenheid fisieke, intellektuele en sosiale hekkies.  Dit is ’n feit dat drome ons buie reguleer: droom heerlik en jou dag begin goed, maar rol die hele nag rond weens ’n nagmerrie en jy voel en lyk soos ’n donderstorm wanneer jy jouself moeg-moeg uit die bed uit sleep.

Drome is meer algemeen tydens slaapfases waar breinaktiwiteit hoog is.  Maar het jy geweet dat die vrystelling van die normale neuro-oordragstowwe soos serotonien en histamien totaal onderdruk word tydens hierdie slaapfases?  Die rede daarvoor is relatief eenvoudig:  hoe minder beweeglik die liggaamspiere, hoe kleiner die kans dat jy jouself kan beseer gedurende ’n bedrywige droom!

En watter dier droom die meeste?  Nee, nie jou hond nie, al sien jy hom gereeld kamma-draf en blaf tydens sy drome! Raai, die ietermagog het van die kleurrykste drome, selfs meer as die mens.  Maar geweet dat ook voëls en reptiele kan droom?

Soveel meer kan oor die fantastiese wêreld van drome gesê word, maar die les vir vandag is kortliks:  oorweeg jou drome, dalk is jou onderbewuste besig om jou iets te vertel, en gratis berading en skoling is nie te versmaai nie, veral nie van 'n terapeut met sulke intieme kennis van jou gemoed nie!  Have a dreamscape and heal yourself.  Soete drome!

2012-02-13

Ouer, wyser en bietjie snaakser...

Buddy Hackett het gesê: As a child my family's menu consisted of two choices: Take It or Leave It. Dit is hoe die lewe is - vat dit, gebruik dit, maak dit jou eie. Of los dit, gooi dit ver weg en moenie jou tyd verder daarmee mors nie! En so dan ook met hierdie Blog - neem daaruit wat jy kan, kou die vleis en spoeg uit die bene. Ons praat weer binnekort!

2007-05-04

Bewussyn, liefdeswaan en ego-behoeftes

Met watter mate van bewussyn kies ons ’n lewensmaat om aan ons behoeftes te voldoen? Anders gestel: kies ons iemand op grond van ’n gerasionaliseerde gesprek met onsself wat so verloop: “ja, ek is regtig lief vir daardie persoon en wil my lewe met hom/haar spandeer, maak nie saak wat gebeur nie” of is die waarheid eerder nader aan “ek het daardie persoon nodig om aan my ego-behoeftes te voldoen en ek is bereid om my hele lewe lank teen sy lelike bakkies vas te kyk omdat my ego-behoeftes hoër rangeer as liefde”.

Is arme Jan Alleman onder ’n selfgemaakte liefdeswaan of erken hy soms ruiterlik “ek het San Alleman nodig om my goed te laat lyk en voel, sy sal altyd na my opsien, omsien en my die nodige heldeverering gee wat ek geniet, en daarom is bereid om my lewe met iemand van ’n mindere intellek te deel al weet ek nou al dat dit my soms nog grensloos gaan irriteer”. Hou ons eerder die keurig -opgedisde kant voor en probeer hard om dit self vir soetkoek op te eet omdat die alternatief (en dus die waarheid oor onsself) net te kru is om te koester, of weet elkeen van ons tog diep binne-in wanneer ons eerder met ego-kwessies doenig is as met ware hartsake?